Sunday, April 09, 2006

Stuck on 13

Toe ek in die lift inklim, druk ek nommer 15 en gaan staan in my hoekie. Daar klim nog 2 mense in, hulle druk die knoppies van 2 en 6 onderskeidelik. Ek dink by myself hoekom wil iemand hysbak ry tot by vloer twee. Seker maar omdat hulle lui is. Ek verwonder myself oor die luiheid van mense, totdat die lift stop by 2 en die luiaard uitklim. Ons stop weer by 3 en daar klim 'n man in met gegelde hare en hangover oe. Hy druk nommer 10, darem nie so lui nie... Dit gaan so voort, op 'n stadium is ons 9 mense. Ek sien op die veiligheids bord die maksimum is 10 persone, of 700 kg. Ek kyk rondom my, nie al hierdie mense weeg onder 70 kg nie. Maar, dink ek by myself, hulle sit seker 'n groot veiligheids margin op hierdie soort gegewens. Dis mos niks om oor uitgestres te raak nie? Of is dit?

Ek verkies dit eintlik om alleen in die hysbak te wees. Anders is dit net ongemaklike stiltes en aangeplakte beleefdheid. By vloer 11 klim die laaste persoon uit, dis nog net ek, en vloer 15 se liggie wat nog skyn. Snaaks dat so min mense na die boonste vloere ry.

Dit is toe dat ek oplet daar is nie 'n nommer 13 nie. Snaaks, hoe mense se bygeloof selfs die nommers van vloere kan beinvloed. Vir my is bygeloof net ouvroustories. Dit is opgemaak deur mense wat hulle eie foute wou wegsteek of wat die onverklaarbare wou verklaar. Ek weet soms nie wat kom eerste nie, die onverklaarbare of die ouvroustories. Is die stories opgemaak om van snaakse gebeure te vertel? Of gebeur die snaakse dinge juis omdat daar stories is daaromtrent?

Op 'n manier dink ek dat hoe meer mense in 'n ding glo, hoe meer waarheid steek daarin. As mense glo daar gaan iets slegs gebeur op vloer 13, dan is die kanse net soveel groter dat iets slegs gaan gebeur. Daai klas van ding.
Terwyl my gedagtes by die afwesige vloer 13 draai, kom ek agter dat die lift nie beweeg nie. Maar die deur is ook nie oop nie. Ek kyk na di liggies, maar niks is aan nie. Dis dan wanneer ek tot die besef kom, ek sit vas... van wat ek kan onthou, tussen vloer 12 en 14.
Die een flouresent lig flikker flikker soos 'n lig wat met een voet in die graf staan. Ek maak my oe liewer toe, want die flikker gee my hoofpyn. Ek wonder of iemand weet iets is fout. Hopelik sal iemand my soek. Of minstens sal iemand die hysbak soek?
My gedagtes bly dwaal by die bygeloof ding. Hoe is dit dan dat ek by nommer 13 vassit? Is dit omdat ek daaroor gesit en dink het, dat ek juis hier vassit? Of het ek daaroor gedink juis omdat ek hier vassit? Maar tog ek het daaraan gedink voordat die hysbak tot stilstand gekom het? Dit lei my gedagtes na die idee van voorgevoel, en selfs precognition. Grens dit aan bygeloof of die bonatuurlike? Of is die twee inmekaargeweef soos 'n koeksister wat so saamgebak is en dan nog in stroop geweek is?
Tyd raak relatief. Die horlosie in die hysbak is stukkend, en ek het lankal opgehou om een aan my arm te dra. Ek meet my tydintervalle aan my gedagtes. Tussen die tyd wat ek oor voorgevoel gewonder het totdat ek by die bonatuurlike uitgekom het, het die ligte uitgedoof. My gedagtes dwaal by die horlosie in my ouma se woonstel. Die ouwereldse groot stuk klokwerk in die moderne klein woonstel. Die herinneringe swem voor my oe verby en ek verloor die konneksie tussen hede en verlede. Ek is weer 'n klein kind wat my ouma se vleispasteities eet en wegkruipertjie speel met die feetjies onder in die tuin.
Erens na die gedagte van die pasteitjies word ek teruggeruk na die werklikheid deur n stampbeweging van die hysbak en die deur wat 'n skrefie oopgaan.
Vir 'n oomblik wonder ek wat ek volgende moet doen, maar die hysbak gee nog 'n ruk, en ek besef dat ek 'n besluit sal moet maak, en gou ook, anders gaan ek nog lank daar sit. Soos 'n kat uit 'n bad water is ek dan deur die skrefie deur, en sommer vir veiligheid 'n paar tree vanaf die hysbak.

So dit is vloer dertien...
Die plafon is heelwat laer as die ander vloere. Ek moet oppas of ek stamp my kop, en ek sou nou nie myself as lank beskou nie. Ek staan tussen blokke hout en oenskynlike bourommel, gekamoefleer met hope stof en dooie blare wat die wind daar aangewaai het.
Dan let ek vir die eerste keer op na die wind. Waar kom dit vandaan? In die onnatuurlike lig van die donkerskemer begin ek my weg vind na die buiterante van die gebou. Daar moet seker vensters of iets wees?
Daar gekom, vind ek tot my telestelling geen vensters nie. Die wind word ingelaat deur nou langweprge gleuwe in die muur wat as ventelasie openinge dien. 'n Aardige gevoel hardloop teen my ruggraat af, aangehelp deur 'n fluitende kermgeluid wat seker deur die wind gemaak word.
Ek verwens my gedagtes wat by bygelowe en die bonatuurlike gaan draai het. Daar is tye in mens se lewe wat Onkundigheid werklik Hemel is.
Katvoet ondersoek ek die hele vloer, en probeer my asemhaling so saggies moontlik hou. Dalk is daar erens 'n stel trappe. Maar hoekom loop ek katvoet? Hoekom probeer ek om nie 'n geluid te maak nie?
Skielik hoor ek weer die kermgeluid. Hierdie keer sonder die fluiting. Die gevoel skip verby die aardigheid en gaan sit in my bors as rou intuitiewe vrees. Ek kyk verwoed om my rond, wat kan so 'n onderaardse geluid maak? My oog vang 'n skaduwee agter die hysbak waaruit ek vroeer gespring het.
'n Beweging, vinniger as enige iets wat ek op hierdie aarde teegekom het, skiet verby die hoek van my oog. In 'n oomblik van angs uiter ek die hardste deurdringendste gil wat my longe my toelaat, en tot my verbasing, is dit baie harder as wat ek ooit kon raai. Dit hou aan vir wat voel soos 'n ewigheid. Totdat die wind begin ruk. Die blare opwarrel. En die sement in die plafon begin kraak....

2 Comments:

Blogger scribbles said...

Wow! Well done ;) Die comment e-mail adres wys op die oomblik nog na my toe, so sal jou ook sommer 'n e-mailtjie stuur. Baie goed :D

2:37 PM  
Blogger Nielo said...

Ek dink nie dis die bedoeling nie, maar ek hou van die rekursiewe konsep wat jou einde in my kop laat dwarrel - die wese wat vasgevang word op vloer 13 tot dat dit iemand anders kan fnuik om die plek van die wese in te neem in die ewigheid op vloer 13 wat in 'n oomblik verby kan flits...

2:02 PM  

Post a Comment

<< Home