hy's bak!

Friday, February 08, 2008

Snippets of conversation

"Ek weier om die hysbak te klim. Ek gaan nie weer vir twee ure daarbinne vassit nie"

"During the last blackout I was stuck for 40 minutes inside an elevator"
Reply:"Thats nothing, I was stuck on the elevator for 4 hours!"

Wednesday, June 13, 2007

Osama bin Mew

This is my kitty cat Osama bin Mew. She is not a terrorist. I hope to come back in my next life as my cat. She has the bestest life ever.

Labels:

Friday, November 10, 2006

Adrienne se eerste hysbak storie...

Ek maak my epos oop - sien 'n brief van Adrienne en kliek daarop - dit bars oop soos 'n pinata vol lekkers van woorde!

----------------------------

Die gebou is aantreklik, in die art deco styl met sierlike simmetriese pedimente en gestileerde mitlogiese gravures in die sandsteen muurpanele. In die elegante portaal met sy gewelfde plafon waar die goue daglig die gepoleerde skaakblok marmervloer weerkaats, aan die voet van 'n helder silindriese glasskag, gly die antieke hysbakdeure statig oop.

Die interieur is stylvol, selfs luuks, met warmbruin houtpanele onder damaskmuurpapier in boergonje, 'n duursame digte tapyt met parketlys en 'n handreling, kunstige vloerwyserpaneel en kontrolebord in blinkgepolitoerde geelkoper. 'n Stemmige gloed uit twee klassieke muurgemonteerde ligkoepels baai die hysbak se binnekant in 'n aanloklike, intieme lig.

Vier passasiers klim in die hysbak wat hulle met die veiligheid van 'n ornamentele gietysterhek en swaar rooi deure omarm voordat dit met goedgeoliede ratte geruisloos na bo begin klim. 'n Man met netjiese grys hare in 'n goedgesnyde pak, sy heelwat jonger, stylvolle vrou met jeugdige figuur en smaakvol geklee, twee dogtertjies - een stil en skaam aan haar ma se hand en een vrolik en lewendig aan haar pa se hand. Die gesin voer gedemp gemoedelike gesprekke - terwyl die ma haar oudste inwy in die vakmanskap en duursaamheid van die hysbak se binne-afwerking , verduidelik die pa aan sy jongste hoe die meganisme van die verligte kontrolepaneel werk en herken hulle saam die syfers wat elke vloer se verbygang aandui.

Die hysbak styg langsaam in sy glasskag na bo. Wanneer die deure op die 19de vloer oopgaan, klim die ouer dogter, nou 'n universiteitstudent, uit met 'n reistas. Sy groet haar suster, in 'n kelnerin se uniform met 'n laboratoriumjas oor haar arm, en haar ouers - haar pa, met werkstas in die hand, nou effens meer geset en met 'n kommerplooi tussen sy oë, haar ma omring van kleuters in haar versorging, met 'n stapel legkaarte, prenteboeke en emmertjies met waterverf en speelklei in haar arms. Buite die hysbak wag 'n aantreklike jongman in sy rugbyklere die ouer dogter in, neem galant haar tas en stap hand aan hand met haar in die gang af.

Die hysbakdeure gaan op die 20ste vloer oop. Die student loop mank na binne met haar arm in 'n verband, snye en skrape oor haar arms en bene te midde van haar gesin se besorgde gekloek. Die verband verberg 'n letsel wat teen haar binne-arm opkronkel. Die jongman lê op 'n hospitaaltrollie buite die deure - hy is eweneens vol kneusings, en bewusteloos. Bokant die trollie teen die muur van die gang proklameer 'n banier "Matieland groet jou."

Op die 22ste vloer tree die jonger suster uit die hysbak aan haar pa se arm. Sy straal in 'n bruidsrok en koester in haar arm 'n gerf rooi rose - 'n geskenk van haar ma en suster. Haar pa, stemmig in 'n duifgrys pak gee met vogtige oë haar hand oor aan 'n sterkgeboude jongman met lang krulhare in 'n manelpak, 'n rebelse ring in sy oor. Haar ouers en suster volg met ingehoue afwagting die bruidspaar op die rooi tapyt in die lang gang af.

Die hysbak vertoon 'n somber tablo op die 25ste vloer. Die ma, dogters en skoonseun, in swart geklee, klim uit die hysbak en volg met afgemete tred die donker houtkis met die gerf sint joseflelies bo-op, 'n afskeidsgeskenk van die weduwee en haar dogters aan die ontslape hoof van die huis. Die oudste dogter huiwer in die optog en kyk skrams oor haar skouer - in die hysbak op pad na 'n ander vloer is nog 'n kis, een met 'n rugbytrui bo-op.

Die jonger suster, traanstrepe oor haar wange, die soveelste sigaret tussen haar vingers en omring van tasse en bokse met etikette daarop, wag die hysbak op die 27 ste vloer in. Daar is meer trane en vertroostende omhelsings van haar ma en suster wanneer die hysbakdeure oopskuif en sy met onversierde linkerhand haar bagasie na binne aangee.

In die portaal van die 35 ste vloer op 'n tafeltjie tussen wynbottels en glase staan 'n geraamde kollage met foto's van die bruidegom - as baba, klein seuntjie, tiener, student en jonggetroude. The Waterboys speel in die agtergrond. Betraande familielede en voormalige geliefdes omarm mekaar met woorde van simpatie wanneer die hysbak oopgaan en die jonger suster vir haar eksman se herdenkingsfees uitstap.

Die hysbak is verweer en die hysmeganisme knars en wikkel. Die glasskag is dof van jare se suidoostewind, winterbuie en voëlmis. Die lakafwerking van die rooi deure is gebars en dop plek-plek af. Die gietysterhek is geroes en taai van dekades se stof wat op die ghries aanngepak het. Wanneer die hysbak krysend oopskuif, is die mat op die drumpel en teen die kante tot teen die vesels uitgetrap. Skuurmerke van tallose voete oor baie jare ontsier die parketvloerlys. Handmerke glim oranje op die koperhandreling en kontrolepaneel - nou groenswart aangeslaan - en die ligkoepels, nou 'n onpaar, hang verwese teen die verbleikte damaskmuurpapier waaronder die houtpanele vaal en vol splinters uitsteek.

In die hysbak op die 38 ste vloer, die verslete interieur bolangs gepoets en skoongemaak en met blomruikertjies versier, is die dogters, in fleurige somerbruilofsklere aan weerskante van hulle ma ingehaak. Sy is sjiek en sjarmant in poeierblou met 'n gerf blou irisse en geel swaardlelies - self die vorige nag in die gastehuis bymekaargesit - in haar arms. Aan haar linkerhand pryk 'n rojale diamantring. Die deure gaan oop waar 'n middeljarige man met geel knoopsgatruiker sy bruid met 'n glimlag en 'n gretig-uitgestrekte hand inwag. Hy is opvallend sterk vir sy jare en troon bo sy petite vrou uit as hy haar arm neem en besitlik by haar inhaak. Die dogters wuif hul ma agterna terwyl die deure toegaan. Hulle sien nie hoe die man se glimlag in 'n grynslag verander en hy skielik met 'n wurggreep hul ma se tenger gewrig in sy harde hand vasklem nie.

Die deure haak vas en beur weer hortend oop, op dieselfde vloer. Die gang weergalm van 'n harde stem wat dreigemente en beledigings skreeu en voetstappe wat aggressief naderkom. In die hoekie van die hysbak skuil die vrou op haar hurke, bang en bewerig, met rooigehuilde oë, haar oorwerkte arms beskermend oor haar gekneusde gesig, haar waardigheid verniel, haar onafhanklikheid vertrap. Voor haar voete is reissakke met 'n paar noodsaaklikhede. Haar jongste is beskermend dog selfgeldend langs haar op 'n selfoon besig om met beraders, polisie en familie te onderhandel oor veilige verblyf en noodmaatreëls. Haar oudste paai die gesin se ontwrigte honde en katte wat verward en angstig in een hoek van die hysbak bondel en kerm.

Die 39 ste vloer breek aan. Binne in die hysbak sit die drie vroue op gekussingde tuinstoele en teedrink. Vivaldi se Somer speel in die agtergrond. Voor die oudste dogter se voete bondel haar vier hondjies vriendelik en aandagsoekerig. Haar hartseer oë kyk ver en vergeefs in die skemer van die gang af vir 'n teken van haar twee gemmerkatte. Haar suster gesels vertroostend en ondersteunend met haar ma wat rustiger en minder angstig daaruitsien. 'n Onheilspellende skaduwee val net voor die drumpel van die deure en 'n selfoonsleutelbord glim vlugtig in 'n donker hoek. In die hysbak versplinter die skel gelui van die ma se selfoon die vredigheid van die toneel en is die spanning en agterdog voelbaar wanner sy die foon beantwoord.

Die hysbak gaan rukkerig toe...en weer oop. 'n Man in sy dertigs is op 'n trapleer besig om die hysbakligte se gloeilampe te vervang. Die jongste suster sit op 'n kroegstoel en lees om die beurt met konsentrasie in 'n dik handboek en maak notas op 'n eksameblok. Die oudste suster sit op die vloer met hopies kontant en stapels huishoudelike rekenings om haar en 'n optelmasjien in die hand. Daar is 'n gees van verslaentheid oor die vewese meisies. Die jongste se selfoon lui. "Hallo, Mamma"...

Die hysbak beur moeisaam voort, maar haak vas tussen twee vloere. Wanneer die deure oopgaan, is 'n deel van die volgende vloer in die boonste helfte van die deuropening sigbaar. 'n Reistas, handsak en bos sleutels lê wanordelik in een hoek. Twee stelle voetstappe kom nader - een stel hardloop gly-gly en paniekbevange, die ander stel kom afgemete-dreigend en meedoënloos agterna. 'n Bang vrouestem pleit tranerig en uitasem. 'n Mansstem bulder hardvogtig en onsimpatiek terug. Die twee stelle voetstappe verstil. Skielik. Daar is 'n gestoei-'n stemwatpleit-'n stemwatbulder-houewatval-gesmoordegille-'n lyfwatneersyg-'n sug-'n onheilspellendeklikgeluid-'n oorversplinterende

knal.

In die donker binneste van die moëe ou hysbak
tussen vloere
in 'n hoekie ver van die lig
is dit doodstil
hou twee bang dogtertjies mekaar styf vas
loop 'n dun rooi straaltjie
verby die tas,handsak,sleutels
oor die vloer en drup
drup
drup


En 'n stem ontdaan van gevoel of rede skreeu: "julle is volgende...!"

'n Oomblik gelede wat nou-nou gebeur...

Hulle hoor weer voetstappe en kyk angstig na mekaar. Die oudste dogter, haar arm steeds om die jongste, reik uit en druk herhaaldelik en angstig die knoppie wat die deure moet laat toegaan. Hulle sien reeds die bruin skoene nader kom en hoe die bene begin buig wanneer die deur met 'n ruk toegaan en die hysbak skielik begin val. Die twee klou vreesbevange en gillend aan mekaar vas, maar dan kom die hysbak met 'n ruk weer tot stilstand en begin weer stadig klim. Dit kom tot stilstand op 39ste vloer.

Die deur gaan maklik en geluidloos oop as of dit pas geinstalleer is en voor hulle sien hulle 'n ewebeeld van die hysbak waarin hulle staan, maar in hierdie hysbak staan daar 'n man wat glimlaggend vir hulle staan en kyk en sy arms vir hul oop maak. Vir 'n oomblik staan hulle weerloos aan mekaar en vasklou, dan skyn die son van erkenning en liefde skielik deur die oë van die jongste en sy spring na vore in die wagtende arms met een woord, "Pappa!"

Die oudste staan vir 'n oomblik verslae, want sy herken ook nou die man wat hulle geleer het wat liefde en respek is soos hy gelyk het toe hulle op die eerste vloer opgeklim het, dan ontspan die yster vuis om haar hart, en met 'n snik val sy ook in sy omhelsende liefde in.

Dit voel as of hulle vir ewig so kan staan, 'n dogter se kop wat op beide skouers rus en trane wat sy hemp deurnat maak, maar dan stoot hy hulle sagkuns weg, sonder om hulle te laat gaan en kyk hy met deurnis na hulle.

"Moenie bang wees nie," sê hy, "Ek is altyd by julle, altyd."

"Sê vir Mamma ek is liewer vir haar soos die dag toe ons getroud is. Sê vir haar ek sit by haar as sy slaap, ek streel haar hare en soen haar ooglede. Sy verdien liefde wat haar oplig, nie eienaarskap geklee as vals liefde wat haar vertrap nie."

Die laaste woorde word met 'n koue woede gesê, dan druk hy hulle weer styf teen hom vas.

Wanneer hulle weer hul oë oop maak is dit mekaar se skouers waarop hul koppe rus, mekaar se klere wat deurnat is van trane. Hulle kyk verwondered na mekaar, en dan om hulle heen. Die hysbak se deur gaan oop.

Binne in die hysbak sit die drie vroue op gekussingde tuinstoele en teedrink. Vivaldi se Somer speel in die agtergrond. Voor die oudste dogter se voete bondel haar vier hondjies vriendelik en aandagsoekerig. Die twee dogters kyk verwonderend na mekaar en spring as een op en omhels hul ma. Elkeen soen haar, en sê "Ek is lief vir Ma, en Pappa stuur sy liefde."

Sy staan verstom, as of sy nie meer weet wat om te doen met liefde soos die nie, dan begin die trane oor haar wange rol en klou sy vas aan haar dogters.

Oor en oor herhaal die twee dogters, "Mamma verdien beter, ek is lief vir Mamma. Mamma verdien beter, ek is lief vir Mamma."

Die tuin is donker wanneer hulle mekaar laat los en stadig opstaan uit die geknielde hopie met knallende knee en stywe bene.

Die oudste kyk met 'n gevoel van vrede om haar heen en knik, "Van nou af vat ons die trappe. Van nou af klim ons self."

Tuesday, September 19, 2006

Jou oë raak moeg...

Skielik gaan die deur oop...




Sunday, September 03, 2006

Helder Hyser

Dis eers toe ek in my ouers se motorhuis staan en kyk na hoe netjies alles reg gepak is dat ek tot die besef kom ek is besig om te droom.

Skielik tref dit my, ek is besig om 'n helder droom te ervaar. Ek kyk om my rond, bewus van elke besonderheid. Ek reik uit na 'n krat en voel die hout se spliteragtige oppervlak onder my vinger-punte.

"Reg," dink ek, "ek moet nie probeer om die droom te dryf nie - net bewus te bly en te volg."
Uit voorige helder drome weet ek dat ek nie die droom kan dryf nie - dit val uit mekaar uit.

Ek staan en tuur versigtig om my rond, attent op enige nuwe verwikkelinge, dan gewaar ek 'n vierkant van lig op die grond wat al hoe helderder raak, as of dit 'n lig is wat van 'n afstand af aan kom en sigbaar is deur gleufies.

Ek tree terug, onverbaas, as die lig sy helderste bereik en daar 'n hyser uit die grond uit op rys soos 'n leeu wat lui opstaan van 'n warm klip af.

"Pieng!" gaan hyser wanneer die deure oop gaan, wat vreemd is, aangesien mens gewoonlik 'n pieng geluid hoor as die deure oop gaan, eerder as die woord "Pieng".

Ek haal maar net my skouers op en tree die hyser binne - ek is seker vreemder dinge as die lê vir my voor as ek net kan bewus bly van die feit dat ek besig is om te droom.

Skaars is beide my voete oor die drimpel of die hyser begin daal. Ek kyk terug na die deure en merk dat hulle net weer skielik toe was nadat ek die hyser betree het sonder enige oorgang van oop na toe.

Die hyser versnel al meer en ek begin ligter voel. Die versnelling hou vol en ek voel hoe my voete die vloer van die hyser verlaat. Eers sweef ek stadig opwaarts, maar dan begin ek ook te versnel. Om een of ander rede kom die plafon van die hyser nie nader nie - om die waarheid te sê merk ek nou op dat beide die vloer en die plafon besig is om weg van my te beweeg, maar steeds ervaar ek die gevoel van opwaartse beweging.

Die oomblik wat ek besef die vloer en plafon beweeg weg begin die mure van die hyser ook weg beweeg, en die boks waarin ek was breuk in panele op wat in die donker niet in verdwyn.

Om my is dit nou pik donker, en die gevoel van beweging het gestaak - ek hang op een plek in die middel van nerens - maar ek kan steeds myself duidelik sien as ek afkyk na my liggaam. Ek weet ek was geklee toe ek die hyser betree het en eers besef het dat ek besig is om 'n helder droom te ervaar, maar merk nou dat ek sonder 'n draad klere is.

Dan hoor ek 'n hartklop. Dis baie duidelik, en voel of dit reg langs my is. Ek word oorkom met 'n onbeskryfbare rustigheid en 'n oorweldige gevoel van veiligheid, dan is dit as of daar 'n toe geknip is met 'n sker en ek voel hoe ek val.

Die wind is koud teen my naakte lyf en ek voel hoe ek deur lae vog val - soos wolke of mis. Dit voel vir my vreemd dat ek die heel tyd nog net as toeskouer alles ervaar, dat ek geen angs ervaar oor my drastiese afwaartse beweging nie.

Stadig aan word ek bewus dat dit besig is om lig te word, en ver onder my kan ek die grond sien nader kom - steeds is ek nie gesteur nie. Ek is nie lekker seker wat die doel van hierdie helder droom is nie, maar voel vol self-vertroue dat ek kan ingruip en selfs kan vlieg as dit sou nodig raak.

Dan gebeur die vreemdste ding - stadig aan begin ek verander, strale vog begin van my stroom en bly hang in die lug waar deur ek geval het en ek voel hoe my vaste liggaam al kleiner en dunner word terwyl ek terselfde tyd meng met die wolke wat in die lug hang en op 'n manier meer word.

Ek weet nou met sekerheid dat ek nooit die grond gaan tref nie - dalk as rëen - en dan is my liggaam geheel en al weg.

Ek is die wind, ek is die weer, ek is die atmosfeer.

Thursday, August 31, 2006

Giggel

Hierdie is glo 'n ware verhaal, soos vertel aan my deur 'n vriend wat dit beleef het. Ek skryf maar in die eerste persoon, (dis interessanter.)

"Ek en my vriend klim in die hyser in, en druk die knoppie vir die vierde vloer. Die deur is nog besig om toe te gaan, toe sien ek vir Barry White*, een van ons dosente, daar aankom en hy klim ook in die lift.

Ons staan ewe niksvermoedend teen die agterkant van die hysbak, terwyl Barry White heel langs die knoppies gaan staan, die nommer druk met die voorpunt van sy wysvinger, en dan staan hy net daar voor die kontroles, en GIGGEL!"

Dit sou minder vreemd wees as Barry White nie so 'n ernstige ou was nie, maar nouja, such is life.

*Skuilnaam

Tuesday, August 29, 2006

kort hysbakstorie (enigiemand welkom om nog lyne by te voeg)

Die hyser gaan oop. En dan toe.

Denkspeletjie

Op watter manier is 'n hyser soos die lewe? Of as jy op die oomblik met iets sukkel - op watter manier is daardie probleem of situasie soos 'n hyser? (lateral thinking)

Of miskien beter gestel - op watter manier is die lewe soos 'n uitstappie in 'n hyser? Dan onmiddelik is die hyser net iets tydelik tussen twee bestemmings...en ons maak 'n keuse om in die hyser in te klim...En die ander mense stamp ons rond of vermaak ons tot ons ons endbestemming bereik - waar hulle saam met ons afklim of verder gaan op hul eie hyseruitstappie...

Miskien soos Niel baie keer se - is ons in hierdie analogie meer-dimensionele wesens, en die hyser is 'n drie-dimensionele uitstappie van een plek in 'n meer-dimensionele (spirituele) omgewing tot 'n ander plek. Of as jy glo in re-birth...dan kom jy miskien by presies dieselfde vloer uit...net om weer op 'n hyseruitstappie te gaan :-D

En miskien soos my kommentaar op RustyRose se post...miskien as jy alleen ry in die hyser...dan kan daardie getik op jou skouer 'n analogie wees vir die bevraagtekening van die realiteit waarin ons onsself bevind. 'n Rondkyk na ons omgewing. A wake-up call for the nintendo generation :-D

En gesien as 'n spiritual journey...en in die konteks van rebirth - is dit nogal 'n baie interessante konsep om te dink dat jy in die hyser kan inklim en maak nie saak watter knoppies jy druk nie - as jy nie leer wat jy moet leer nie dan gaan jy by dieselfde vloer opeindig.