Adrienne se eerste hysbak storie...
Ek maak my epos oop - sien 'n brief van Adrienne en kliek daarop - dit bars oop soos 'n pinata vol lekkers van woorde!
----------------------------
Die gebou is aantreklik, in die art deco styl met sierlike simmetriese pedimente en gestileerde mitlogiese gravures in die sandsteen muurpanele. In die elegante portaal met sy gewelfde plafon waar die goue daglig die gepoleerde skaakblok marmervloer weerkaats, aan die voet van 'n helder silindriese glasskag, gly die antieke hysbakdeure statig oop.
Die interieur is stylvol, selfs luuks, met warmbruin houtpanele onder damaskmuurpapier in boergonje, 'n duursame digte tapyt met parketlys en 'n handreling, kunstige vloerwyserpaneel en kontrolebord in blinkgepolitoerde geelkoper. 'n Stemmige gloed uit twee klassieke muurgemonteerde ligkoepels baai die hysbak se binnekant in 'n aanloklike, intieme lig.
Vier passasiers klim in die hysbak wat hulle met die veiligheid van 'n ornamentele gietysterhek en swaar rooi deure omarm voordat dit met goedgeoliede ratte geruisloos na bo begin klim. 'n Man met netjiese grys hare in 'n goedgesnyde pak, sy heelwat jonger, stylvolle vrou met jeugdige figuur en smaakvol geklee, twee dogtertjies - een stil en skaam aan haar ma se hand en een vrolik en lewendig aan haar pa se hand. Die gesin voer gedemp gemoedelike gesprekke - terwyl die ma haar oudste inwy in die vakmanskap en duursaamheid van die hysbak se binne-afwerking , verduidelik die pa aan sy jongste hoe die meganisme van die verligte kontrolepaneel werk en herken hulle saam die syfers wat elke vloer se verbygang aandui.
Die hysbak styg langsaam in sy glasskag na bo. Wanneer die deure op die 19de vloer oopgaan, klim die ouer dogter, nou 'n universiteitstudent, uit met 'n reistas. Sy groet haar suster, in 'n kelnerin se uniform met 'n laboratoriumjas oor haar arm, en haar ouers - haar pa, met werkstas in die hand, nou effens meer geset en met 'n kommerplooi tussen sy oë, haar ma omring van kleuters in haar versorging, met 'n stapel legkaarte, prenteboeke en emmertjies met waterverf en speelklei in haar arms. Buite die hysbak wag 'n aantreklike jongman in sy rugbyklere die ouer dogter in, neem galant haar tas en stap hand aan hand met haar in die gang af.
Die hysbakdeure gaan op die 20ste vloer oop. Die student loop mank na binne met haar arm in 'n verband, snye en skrape oor haar arms en bene te midde van haar gesin se besorgde gekloek. Die verband verberg 'n letsel wat teen haar binne-arm opkronkel. Die jongman lê op 'n hospitaaltrollie buite die deure - hy is eweneens vol kneusings, en bewusteloos. Bokant die trollie teen die muur van die gang proklameer 'n banier "Matieland groet jou."
Op die 22ste vloer tree die jonger suster uit die hysbak aan haar pa se arm. Sy straal in 'n bruidsrok en koester in haar arm 'n gerf rooi rose - 'n geskenk van haar ma en suster. Haar pa, stemmig in 'n duifgrys pak gee met vogtige oë haar hand oor aan 'n sterkgeboude jongman met lang krulhare in 'n manelpak, 'n rebelse ring in sy oor. Haar ouers en suster volg met ingehoue afwagting die bruidspaar op die rooi tapyt in die lang gang af.
Die hysbak vertoon 'n somber tablo op die 25ste vloer. Die ma, dogters en skoonseun, in swart geklee, klim uit die hysbak en volg met afgemete tred die donker houtkis met die gerf sint joseflelies bo-op, 'n afskeidsgeskenk van die weduwee en haar dogters aan die ontslape hoof van die huis. Die oudste dogter huiwer in die optog en kyk skrams oor haar skouer - in die hysbak op pad na 'n ander vloer is nog 'n kis, een met 'n rugbytrui bo-op.
Die jonger suster, traanstrepe oor haar wange, die soveelste sigaret tussen haar vingers en omring van tasse en bokse met etikette daarop, wag die hysbak op die 27 ste vloer in. Daar is meer trane en vertroostende omhelsings van haar ma en suster wanneer die hysbakdeure oopskuif en sy met onversierde linkerhand haar bagasie na binne aangee.
In die portaal van die 35 ste vloer op 'n tafeltjie tussen wynbottels en glase staan 'n geraamde kollage met foto's van die bruidegom - as baba, klein seuntjie, tiener, student en jonggetroude. The Waterboys speel in die agtergrond. Betraande familielede en voormalige geliefdes omarm mekaar met woorde van simpatie wanneer die hysbak oopgaan en die jonger suster vir haar eksman se herdenkingsfees uitstap.
Die hysbak is verweer en die hysmeganisme knars en wikkel. Die glasskag is dof van jare se suidoostewind, winterbuie en voëlmis. Die lakafwerking van die rooi deure is gebars en dop plek-plek af. Die gietysterhek is geroes en taai van dekades se stof wat op die ghries aanngepak het. Wanneer die hysbak krysend oopskuif, is die mat op die drumpel en teen die kante tot teen die vesels uitgetrap. Skuurmerke van tallose voete oor baie jare ontsier die parketvloerlys. Handmerke glim oranje op die koperhandreling en kontrolepaneel - nou groenswart aangeslaan - en die ligkoepels, nou 'n onpaar, hang verwese teen die verbleikte damaskmuurpapier waaronder die houtpanele vaal en vol splinters uitsteek.
In die hysbak op die 38 ste vloer, die verslete interieur bolangs gepoets en skoongemaak en met blomruikertjies versier, is die dogters, in fleurige somerbruilofsklere aan weerskante van hulle ma ingehaak. Sy is sjiek en sjarmant in poeierblou met 'n gerf blou irisse en geel swaardlelies - self die vorige nag in die gastehuis bymekaargesit - in haar arms. Aan haar linkerhand pryk 'n rojale diamantring. Die deure gaan oop waar 'n middeljarige man met geel knoopsgatruiker sy bruid met 'n glimlag en 'n gretig-uitgestrekte hand inwag. Hy is opvallend sterk vir sy jare en troon bo sy petite vrou uit as hy haar arm neem en besitlik by haar inhaak. Die dogters wuif hul ma agterna terwyl die deure toegaan. Hulle sien nie hoe die man se glimlag in 'n grynslag verander en hy skielik met 'n wurggreep hul ma se tenger gewrig in sy harde hand vasklem nie.
Die deure haak vas en beur weer hortend oop, op dieselfde vloer. Die gang weergalm van 'n harde stem wat dreigemente en beledigings skreeu en voetstappe wat aggressief naderkom. In die hoekie van die hysbak skuil die vrou op haar hurke, bang en bewerig, met rooigehuilde oë, haar oorwerkte arms beskermend oor haar gekneusde gesig, haar waardigheid verniel, haar onafhanklikheid vertrap. Voor haar voete is reissakke met 'n paar noodsaaklikhede. Haar jongste is beskermend dog selfgeldend langs haar op 'n selfoon besig om met beraders, polisie en familie te onderhandel oor veilige verblyf en noodmaatreëls. Haar oudste paai die gesin se ontwrigte honde en katte wat verward en angstig in een hoek van die hysbak bondel en kerm.
Die 39 ste vloer breek aan. Binne in die hysbak sit die drie vroue op gekussingde tuinstoele en teedrink. Vivaldi se Somer speel in die agtergrond. Voor die oudste dogter se voete bondel haar vier hondjies vriendelik en aandagsoekerig. Haar hartseer oë kyk ver en vergeefs in die skemer van die gang af vir 'n teken van haar twee gemmerkatte. Haar suster gesels vertroostend en ondersteunend met haar ma wat rustiger en minder angstig daaruitsien. 'n Onheilspellende skaduwee val net voor die drumpel van die deure en 'n selfoonsleutelbord glim vlugtig in 'n donker hoek. In die hysbak versplinter die skel gelui van die ma se selfoon die vredigheid van die toneel en is die spanning en agterdog voelbaar wanner sy die foon beantwoord.
Die hysbak gaan rukkerig toe...en weer oop. 'n Man in sy dertigs is op 'n trapleer besig om die hysbakligte se gloeilampe te vervang. Die jongste suster sit op 'n kroegstoel en lees om die beurt met konsentrasie in 'n dik handboek en maak notas op 'n eksameblok. Die oudste suster sit op die vloer met hopies kontant en stapels huishoudelike rekenings om haar en 'n optelmasjien in die hand. Daar is 'n gees van verslaentheid oor die vewese meisies. Die jongste se selfoon lui. "Hallo, Mamma"...
Die hysbak beur moeisaam voort, maar haak vas tussen twee vloere. Wanneer die deure oopgaan, is 'n deel van die volgende vloer in die boonste helfte van die deuropening sigbaar. 'n Reistas, handsak en bos sleutels lê wanordelik in een hoek. Twee stelle voetstappe kom nader - een stel hardloop gly-gly en paniekbevange, die ander stel kom afgemete-dreigend en meedoënloos agterna. 'n Bang vrouestem pleit tranerig en uitasem. 'n Mansstem bulder hardvogtig en onsimpatiek terug. Die twee stelle voetstappe verstil. Skielik. Daar is 'n gestoei-'n stemwatpleit-'n stemwatbulder-houewatval-gesmoordegille-'n lyfwatneersyg-'n sug-'n onheilspellendeklikgeluid-'n oorversplinterende
knal.
In die donker binneste van die moëe ou hysbak
tussen vloere
in 'n hoekie ver van die lig
is dit doodstil
hou twee bang dogtertjies mekaar styf vas
loop 'n dun rooi straaltjie
verby die tas,handsak,sleutels
oor die vloer en drup
drup
drup
En 'n stem ontdaan van gevoel of rede skreeu: "julle is volgende...!"

0 Comments:
Post a Comment
<< Home