hy's bak!

Tuesday, July 20, 2004

portrette?

Hmm...'n portret-storie geskryf.  Amper soos die hyser...verstaan nes die hyser is elke portret mos sy eie wêreld.  Ensovoorts.  (ek het dit nog nie self review nie...sal later...so daar is miskien nog oogbloedlopende foute in)
 
miere

Ek verdrink in die donker see van die ou kunsgallery se skaduwees, en my heengane is stil, want geen klank penetreer die gallery se eeu-oue stilte nie. 'n Suggestiewe stilte, wat miskien eens die stilte was van moontlikhede en drome soos kunstenaars en kunsliefhebbers hierdie kamers gevul het met hul vrolike gepraat en harde gelag, die mure ondooie lewe gegee het met hul verf en hul idees. Idees wat geleef het in die konteks van kunsfilosofie, en dan met hul sterfte maar net geleef het as die ego van herinnering terwyl die kunsgallery orals rondom hulle stadig maar seker verval het.
En nou is al wat oorbly die onderdrukkende en donker gevoel dat daar lewe in hierdie plek was, dat hierdie mure iets behou het wat groter as menslike verstaan was. Groter was as die individue wat elke dag sy binnestes gevul het, groter was as die klein argumente en konflikte van idees wat party dae teen sy mure geego het.
Maar behalwe die gevoel van iets groots en majestieus is daar ook die atmosfeer van verandering, soos mense hiernatoe gekom het en as ander mense gegaan het, soos die kunsgallery se vingers, bevlek met die swartste ink, elk van sy besoekers se lewe geraak het, en met hul heengane 'n donker afdruk op hul wit tingerige vel gelos het.
Totdat almal hom verlaat het. En al wat oorgebly het was die herinneringe, en die onstimulerende en onderdrukkende stilte. En nes 'n baba in stilte groei in sy ma se maag, totdat hy die een dag hard deur haar skop; en nes onkruid groei in 'n tuin wat nie onderhou word nie, so het die kunsgallery ook gegroei en verander soos die eeue alleen en stil aangestap het - met elke oomblik in sterk kontras met die gelukkigheid wat vroeër in sy kamers geheers het.
Die ou vervalle vloer kraak soos my skoene daarop druk, en aan die verdrink in die kamer se skaduwees reik ek uit na die enkele gordyn wat semi-flenters aan die een muur hang. Die gordyn val omtrent weg in my hande, en sy bloedrooi ink kom ongenooid af en laat 'n diep merk op my hande. Tussendeur pogings om in die donker skaduwees asem te haal spoeg ek op die merk, en ek vryf dan my spoeg rond in 'n poging om die gordyne se bloedrooi stempel te verwyder.
Maar dit is asof my spoeg meng met die ink en geen frenetiese vryfpoging van my kant af kan die bloedrooi merke verwyder nie. Raadop, en met albei my hande nou bloederig bevlek, laat gaan ek maar die idee van my om skoon te bly. Nou gryp ek semi-waansinnig en met 'n kinderlike gelag aan die bloedrooi gordyn, en soos 'n persoon wat besig is om te verstik aan 'n hangman se tou ruk ek woedend en woes aan die toue wat die gordyn vashou - en wanneer hulle uiteindelik hulpeloos losval onder my aanval dan trek ek die gordyn oop, en uiteindelik skuin 'n bietjie lig in die donker vertrek in.
'n Spinnekop wat in die voue van die gordyn weggekruip het skarrel verskrik dakwaarts waar die bietjie lig wat deur die vuil venster skuin nie kan uitkom nie, en vandaar sien ek net sy rooi ogies stip en met haat in my rigting staar vanuit 'n karakterlose duisternis.
Die lig laat my toe om bietjie meer van die kamer te sien, en teen twee van die mure gewaar ek vergete skilderye wat deur die afgelope paar eeue net vir die stilte hul mooiheid kon wys, en aan wie se vervalle skoonheid slegs die stilte tot hede toeskouer was. Dan gewaar ek ook die buitelyn van 'n ou marmer standbeeld in die kamer se een oorblywende skadugevulde hoek van 'n man wat depressief sit met 'n hout kierie in sy hand. Ouderdom het die eens wit marmer al laat vervuil en vlek, en dit is asof die man se depressiewe uitdrukking sy oorsprong het in die feit dat hy hulpeloos moet toekyk soos wat hy stadig en met dodelike sekerheid vergaan.
Donker trane rol by sy gesig af, en word dan een met sy swart bolyf wat al deur eeue se swamme en stof oorweldig en weggevreet is. Ek nader versigtig, en die houtvloer skreeu 'n harde weeklaag wat heen-en-weer ego deur die gallery soos wat die gemifde hout sukkel om my gewig te dra; en dan is daar 'n diep baritoon antwoord van elders in die gallery: 'n lae onmenslike geklaag wat my so laat skrik dat my hart amper gaan staan, en stadig, soos wat water met 'n handpomp gepomp word - kry ek eers na 'n paar minute my hard se vinnige doef doef onder beheer.
Die brein bevraagteken homself altyd as daar iets gebeur het wat hy nie kan verklaar nie, of hy probeer grappies maak om die boosheid van die situasie te verlig - en ek verwag so half dat iemand eweskielik uit die donkerte aangestap gaan kom met 'n glimlag op sy gesig en iets surrealisties maar vriendelik gaan sê soos "hi daar! hoe gaan dit?", of met 'n klein deuntjie wat in die agtergrond speel sê "welkom by ons kunsgallery! ta daa!", en dan vir my op 'n toer vat deur die gebou weg van my eie vrees en bangheid.
Maar al antwoord op my verwagtinge is nog stilte, behalwe vir die onsterflike ego van die wrede geklaag deur my eie brein. Ek nader en gryp die ou marmer standbeeld se kierie, meer vir die selfversekerheid van iets hê in die bang geklou van my bloedrooi hande, as vir die gedagte om die kierie as een of ander premoderne wapen te gebruik. Tog wil die kierie nie los kom uit die marmer standbeeld se bleek hande nie, en met 'n bang geruk van my kant af kom die kierie uiteindelik vry - maar nie sonder 'n bleek hand wat nog onseker daaraan vasklou nie, en wat nou grond toe val en oopbars in 'n duisend klein stukkies.
Eers met die kierie in my hand sien ek in watter goeie kwaliteit dit is, asof die vorige paar eeue alles behalwe hierdie geglaseerde stuk hout aangetas en vernietig het. 'n Fyn antieke geskryf wemel oor die oppervlakte van die kierie, maar in die swak lig kan ek dit glad nie uitmaak nie - en dit is slegs 'n oomblik na die hand se geval wat nog 'n vreesaanjaende klaag deur die klein geboutjie ego...nader hierdie keer...en ek besluit om eers 'n ander dag weer terug te kom, alhopend dat teen daardie tyd die gedierte in die donkerte al 'n ander tuiste sou gevind het.
Oppad uit, in die middel van nog 'n lang weeklaag deur die ou gemifde hout vloer, vang die een skildery my oog. 'n Landskap geverf in swart en wit, wat strek verder as wat die menslike oog kan sien. En op een van die heuwels in hierdie landskap: 'n blaarbose boom wat se takke amper pynlik na die hemel toe strek soos 'n sondaar wat smeek vir vergifnis.
Maar dan, gevries soos ek die skildery bewonder is dit asof my visie eweskielik tien keer versterk. Amper soos wat goed helderder, of duideliker is tydens 'n lang staptog - as gevolg van 'n brein wat 'n oomblik lank vry is van die konstante druk en stres van die wêreld, so is dit eweskielik asof tyd vir 'n oomblik stil staan en my oë vry word van sy eie illusies en ek die wêreld om my vir die eerste keer gewaar...
Die kleurlose geverf van die skildery kan ek eweskielik baie beter sien, en in plaas van die lang kwashale van die kunstenaar sien ek nou elke kolletjie kleur as 'n partikel. Saam met honderde ander partikels beskou, eers dan word die illusie van kwashale geskep. En dan, saam met nog duisende ander partikels, eers dan word die illusie van donkerte en lig geskep. En dan, saam met nog 'n ontelbare aantal verdere partikels - eers dan ontstaan die illusie van 'n landskap. Raam dit in 'n vierkant, hang dit aan 'n muur, en dan sit jy met 'n vasgevange ontelbaarheid van partikels wat die onsienende brein merk as "skildery", of "kuns".
Maar nou gewaar ek dat elk van hierdie partikels sy eie lewende entiteit is, elk aan die kriool tussen die karakterlose massas van partikels wat om hom beweeg. En dat hulle nie beperk is tot die vierkantvormige raam van die skildery is nie, maar dat hierdie partikels met vrye wil oor hierdie mensgemaakte grens kan beweeg, en dat hulle so maak - dat dit wat vroeër vir my as heuwels voorgekom het, eintlik 'n ontelbaarheid van partikels is wat deur vrye wil slegs in daardie area rondbeweeg en die illusie van iets wat vas en nie-lewendig is nie skep.
Maar egter is die skildery lewendig, en die heuwels beweeg op en af soos 'n onstuimige see of die asemhaling van 'n afgryslike monster wat nog vir die oomblik slaap. Maar soos ek kyk is dit asof hierdie asemhaling dieper, vinniger, en meer aggressief raak, en asof die vierkantvormige skildery nie meer hierdie woeste seë kan dra nie, en met elke piek van die onstuimige see se branders is dit asof daar derduisende partikels soos droë bloed oor die raam gedruk word en grond toe val.
Daar kyk hulle vir 'n oomblik rond totdat hulle vir my gewaar en stadig maar seker in my rigting begin skarrel. Ek is verlam deur my vrees, maar dit is ook asof ek nie my oë van hierdie partikels kan afvat nie - asof ek gehipnotiseer is deur die bose skoonheid van hulle bewegende massas. Bewegende massas wat soos hulle naderkom al hoe mooier en meer gedefinieërd raak.
Vir 'n oomblik lyk die partikels nog soos 'n kolonie miere wie se swart streep soek-soek oor die houtvloer beweeg, maar dan soos hulle nader kom verander hierdie miere in klein ontstoke demoonperdjies wat aggresief in my rigting aan die hardloop is. Onheilige groen oë kontrasteer met swart pelse, en dan as hulle uiteindelik by my uitkom dan buit vuil ongewasde monde in my rou vleis in en 'n nuutgemaakte tapyt van rooi bloed word getrek oor die ou kunsgallery se gemifde vloer.
Eers baie pyn verder oorheers die pyn die plesier wat hierdie kriolende swart sandput vir my bied. Dan staan ek verskrik op en slaan na die swart massas met die gesteelde kierie terwyl 'n lank weeklaag van pyn onbeheers deur my mond geskreeu word. Adrenalien pomp deur my are en ek vlug dieper in die donkerte van die kunsgallery in
- toe my oog die tweede skildery vang.
'n Traanblou skildery van 'n groot brander wat hom teen 'n hulpelose wit strandjie wraak. En soos ek kyk breuk hierdie brander uit die beperkings van die skildery se plat oppervlakte uit en dreig om my te omvou soos die aanval van 'n groot jellyvis. Die demoonperdjies staak vir 'n oomblik hulle hap aan my en staar met angs na die groot brander wat nou op ons almal deurkom en my dan verdrink in 'n donker mengelmoes van dooie miere en seegras.

---

Later as iemand weer die kunsgallery kom besoek dan vind hulle in 'n klein gordynlose kamertjie, met twee leë rame op die muur 'n halfverrotte lyk met spinnekopbyte en ou droë bloed orals oor die lyk se arms. Die lyk word dan sonder ondersoek begrawe, maar as iemand 'n lykskouing gehou het dan sou hulle dit vreemd gevind het dat die persoon versmoor het, en in sy longe: 'n groot aantal dooie miere.

Sunday, July 11, 2004

my lucid dream storie

Dit is nog nie klaar nie, maar ek weet ook nie of ek dit klaar gaan maak nie so ek maak maar 'n blog-inskrywing daarvan:

Die hyser kom uiteindelik tot stilte en die bose geeste wat saam met my gery het laat spaander deur die toe hyserdeur met hul normale sielsverdraaiende skreeue. Die meer gemanierde geeste wag egter vir my gemak totdat die hyser se dik metaal deur stadig met 'n ondooie weeklaag oopskyf, voordat hulle ook in die donkerte in verdwyn. Ek beweeg stadig maar seker nader aan die hyser se opening en kyk uitwaarts, soos 'n prospektiewe selfmoordenaar wat vir 'n finale keer uitkyk oor 'n dodelike afgrond. Ek laat my voet twyfelend buite die hyser, maar geen versekerende gevoel van weerstand ontmoet my soekende voet nie, en al wat my oë kan sien is donkerte in alle rigtings behalwe vir pers-grys wolke wat 'n bewegende en Gotiese kunswerk teen die donker hemel verf.
Tog, die ou heks is al een wat my vra kan beantwoord en al wat ek het om te verloor is 'n donker donker siel. Intern is die besluit gemaak, nou ekstern moet ek net 'n wêreld van geeste en hekse aandurf. My swart jas gooi ek saam met my twyfelinge teen die kant van die hyser, en dit sak hartseer en oorwonne na 'n bondel op die vloer. Die koue wind byt teen my kaal bolyf, maar dan vou ek my vampiervlerke uit in die min spasie wat die hyser bied - en spring vasberade in die donkerte in!
'n Koue en sterk wind waai my omtrent van koers af, maar mettertyd vind ek my ritme in die sterk wind en stadig maar seker ondersoek ek die donkerte. Vir ure lank is al wat my vampieroë kan gewaar die bewegende verf van die hemel se pers-grys kunswerk, maar dan, na ure se bekommerde gesoek gewaar ek uiteindelik iets in die verte - soos terselfdertyd 'n reeks hoogsgestemde en onmenslike skreeus my ore bereik. Ek nader die bewegende grys vorms vir 'n beter aansig, en met elke klap van vlerke is dit asof die lug net kouer en kouer word, en al wat my weerhou om na die hyser terug te keer is die feit dat tussen hierdie vormlose vlak van bestaan en die sterk yswind wat my konstant rondgewaai het - het ek nie meer die vaagste benul in watter rigting die hyser geleë is nie.
'n Grys vlermuisagtige wese onderskei homself eweskielik van die swerm onbestemde grys vorms en peil aggresief op my af. 'n Aaklige wese; met 'n velkleur wat nader is aan 'n vuil moerasgroen as die grys wat ek van vêraf gesien het, en oë van 'n ontvlugbare swart karakter. Skerp tande wat so vuil is dat alles wat ek al in hierdie en vorige lewens geëet het eweskielik net na bo wil kom, maar erger as hierdie potjiekos van visuele gruwels is die geskreeu wat soos 'n ego direk van hel deur my hele wese vibreer en my geestesgesondheid met gerasperde naels uitmekaar probeer ruk.
Ek kry dit reg om net-net te koes as die skepsel finaal op my afpeil, en in daardie kort oomblik wat ek my moontlike dood in die gesig staar - is al liefde en deernis wat ek in die wese se haat-gekleurde oë sien die sagte refleksie van my eie bloed. Hierdie wese leef volgens die woordeskat vervat in 'n bose woordeboek, en in daardie oomblik wat ons oë ontmoet verbrand die woordeboek in my eie brein soos my eie definisies van haat, jaloesie en kwaadaardigheid vernietig word, en tydelik vervang word met hierdie wese se meer bose waarheid.
Die vlermuisagtige vorm draai om om nog 'n aanval te loods. Hierdie keer is ek egter gereed en kloue en vlerke meng in 'n deurmekaar warboel soos ons liggame in die lug ontmoet. Sy helse skreeu is nog erger as die vlymskerp naels wat in my tingerige vlerke in sak, en ek maak die besluit om maar in hierdie geval die gebruik van towerkrag te waag.
'n Sagte kragwoord rol oor my lippe en ek voel eweskielik hoe my hand eers begin jik, en dan met groot erns en intensiteit begin brand. 'n Klein straaltjie lig vorm bo my een hand, en binnekort is daar 'n groot bal van lig in my palm wat 'n klein wit kolletjie vorm in hierdie donker kunswerk. Die vlermuis probeer vlug van die wit lig wat nou vanuit my hand in alle rigtings reflekteer maar vind homself vasgepen tussen my ander hand en my groot vlerke wat nou soos 'n plastieksak oor hom vou.
Die wit lig skyn gate in die vlermuis se liggaam en eweskielik verander die toon van sy skreeu na een van marteling na een van pyn. Dit is asof sy stem en gesig eweskielik 'n semi-menslike karakter aanneem soos die vlermuis eweskielik vir die eerste keer pyn en doodsvrees ervaar. Dan word sy greep op my al hoe vlouer en vlouer tot daar net eweskielik 'n verstywing in sy gesigsuitdrukking voorkom en hy in die donkerte inval.
Met sy dood kon ek darem weer bietjie ontspan en ek kon sweer dat in daardie laaste paar oomblikke wat ek hom nog vasgehou het dat sy hele vel bedek was met een of ander antieke skrif. Tog, vertel ek myself, dit is seker maar net my verbeelding. Sekerlik is dit maar net die are van sy vel...verstaan sy vel was alreeds moerasgroen, sy bloed 'n deurskynende ligte blou, en sy brein 'n gemors. In elk geval, ek het nie eintlik tyd vir 'n speurverhaal nie en vergeet nou daarvan.
Met die val van hierdie een vlermuis is dit eweskielik asof die verre geskreeu van die res van die swerm eweskielik verander na 'n haatvolle klaaglied. 'n Paar breuk weg van die swerm en duik agter die oorlede vlermuis aan terwyl die res eweskielik op my draai. Tog hou die skerp lig in my hand hulle op 'n afstand, en vir 'n oomblik is ek soos die kers in die middel van 'n swerm motte - almal wil graag op my afpeil maar die skerp lig in my hande is 'n bringer van pyn en dood.
'n Diep stem vibreer dan deur die vlermuise se klaaglied, "Laat hom deur. Dit is nog nie tyd vir ons geveg nie. Sy oorwinning is van geen gevolg in die groot warrelstroom van tyd nie; ek sal hoor wat hy te sê het." Die vlermuise laat spaander in die rigting van waar hulle gekom het en gaan hang onderstebo in die hemel. Meeste van hulle sluit hul oë maar 'n paar hou aan om my naderkoms met haatgevulde oë te volg. Die geskreeu van vlermuise het egter nog nie heeltemal bedaar nie soos 'n paar vlermuise terugkom met die lyk van die oorledene, en in hierdie slaghuis van onderstebo vorms saggies aangaan met hul lied van hartseer en haat.
Die lykdraers beweeg in 'n ander rigting as waar die res van die vlermuise onderstebo slaap, en ek volg hulle tot 'n klein entjie weg waar ek 'n ry vreemde portrette teen 'n onsienbare muur (nes die vlermuise gehang het teen 'n onsienbare dak) gewaar. Die portrette is baie naturalisties in karakter, maar dit is asof al die eindprodukte om een of ander rede baie somber uitgekom het. Ek wonder nog of dit 'n fout van die kunstenaar was, en of al hierdie mense maar net intrinsiek bose voorkomste het toe een van die portrette se gesigte letterlik draai en in my rigting kyk.
Die wit lig in my hand flikker woedend soos ek die gesig beskou: lang donker hare hang oor 'n donkergebrande gesig, en die oë is konnoterend van iets onheilspellend en ontsnapbaar. En tog sien ek nie haat in die gesig se oë nie, asof die wese selfversekerd weet dat sy tyd vir heerskappy oor ander nog gaan kom as gevolg van een of ander onderliggende beginsel van die heelal - en dat daar dus geen rede is om op hierdie stadium haatvol teenoor my te wees nie.
En tog, is hierdie besefkoming van my nog meer vreesaanjaend as die haat van al die vlermuise te saam, want hierdie wese is die kern, die skepper van haat en alles wat boos is - en hy is rasionaal genoeg om sy lewenswyse te laat realiseer. Ek sluk swaar, en die wese moes my gedagtes in my oë gewaar het want hy lag 'n lang baritoon lag wat deur die lug vibreer en dit 'n verstikkende kwaliteit gee.
Die gesigte in van die ander portrette lag saam, terwyl ander weer hardop huil, en ander my met haat aanskou, terwyl ander se portrette van karakter verander na gruwel landskappe - en ek as hulpelose aanskouer van hul kuns moet aankyk soos hulle in naturalistiese detail in hierdie tonele uitbeeld hoe hulle hulpelose slagoffers moord, mollesteer en verkrag.
Dan is alles weer soos dit was, en die wese praat met my, "Al hierdie wat jy nou gesien het se tyd sal nog kom. Jy is maar 'n peon in die skaakspel wat stadig maar seker met tyd gespeel word tussen donkerte en lig, en tog staan jy nou voor die koning van die bose." Die wese blaas saggies en die helder lig in my hand gaan summier dood en orals om my is dit pikdonker. Tog kan ek nog die wese se profiel in die donkerte uitmaak soos hy aanhou praat, "Jy het niks hier te vrees nie - selfs jy het jou plek in hierdie skaakspel alhoewel vir jou voel asof jy 'n wese van vrye wil is - is dit maar net illusie."

Sunday, July 04, 2004

'n storie

Die ou hyser kraak tot stilte, en kom dan met 'n onseker bewe tot rus. My hande vou om die hyser se vouhek maar die skeinbaar tingerige metaal wyer om te beur onder die krag van my sterk arms, asof die ou hyser se krag vir beweging nou finaal eers op is. En tog is daar iets dringends en bang aan die hyser se hartklop, asof die rede vir die toe hek niks te doen het met moegheid nie - maar met vrees, vrees vir die donker hersensims van sy eie brein aangesien my eie oë niks verkeerd kan bespeer met die skeinbaar verlate vloer.
'n Sagte kragwoord bewe onder my boonste lip, en dan vou die hek hulpeloos oop. Ek beweeg deur tot op die matbedekte vloer, en voordat ek dit kon stop of paai vryval die hyser na onder, met die vloerwyser bo die hyser se verlate gaping wat nou flikker soos die hart van 'n klein bokkie aan die weghardloop van 'n vinniger luiperd in die hitte van 'n glurende son.
Soos 'n jagter in kort gras beweeg ek oor die ou bevlekte mat. Die reuk van gemorsde koffie en verval waai deur my oorsensitiewe sintuie, maar soos ek my pad maak deur die ontelbare verlate afskortings kom daar ook 'n meer bekende, kalmerende reuk na my sintuie...die reuk van bloed. Die donker koffiemerke op die mat lyk eweskielik so bietjie donkerder en in die refleksie weerkaats deur die geraamtes van 'n ou paar rekenaars sien ek die prominente driehoekstand wat my tipe wese kenmerk.
'n Huiweringswekkende boos-getoonde gegiggel ego deur die kantoorblok, maar die oorweldigende reuk van ou bloed oorweldig my normaalweg rasionale denke. Die kantoorvloer is teen hierdie tyd al pikswart van die bloed, en in die droomwêreld in my kop waad en swoeg ek in 'n rivier van vars en lekker mensebloed wat dreig om enige oomblik my te verdrink.
Eweskielik word my lewenslange fantasie tot 'n end gebring soos ek 'n sagte getjank hoor na die een kant van die gang waarin ek myself bevind. Ek aarsel 'n oomblik - 'n onbeheerde dors vir bloed kan mens maklik in die donkerte inly - maar ek besluit om maar nogsteeds ondersoek in te stel alhoewel ek nou die dorre realiteit van rasionaliteit oor my bloedfantasieë dwing.
Ek hoor haar hartklop se musiek al 'n paar afskortings voordat ek eers haar liggaam bespeur, en voordat sy eers bewus is van my sagte naderkoms het my brein al die hele toneel verwerk: haar sagte vorm lê hulpeloos teen een van die afskortings, haar wit bloes bedek met 'n skakering van haar eie bloed. Haar mooi spierwit naels kontrasteer met haar taankleurige hande, wat weer kontrasteer met die skadu in die vouings van haar hand, wat weer kontrasteer met die bloed wat in veelkleurige tapisserie oor haar hande en wit bloes vloei.
Haar een hand probeer onsuksesvol om die oneindige gevloei van bloed uit haar oopgerukte nekslagaar te stu, terwyl haar ander hand se wysvinger onwetend krul in haar mooi swartkleurige hare. En tog, alhoewel sy besig is om dood te blooi bespeur ek geen vrees vir die onbekende in haar oë - slegs 'n afsku van die pyn wat sy oppad daarheen moet verduur.
Haar swart oë ontmoet uiteindelik myne en slegs nou bespeur ek vrees in haar jong oë. Haar soenbare mond probeer kreun in vrees, maar al wat uitkom is 'n sagte getjank en nog 'n vloed van bloed uit die hap in haar nek. My hand streel haar swart hare, swart hare wat soos 'n versierde gordyn haar aantreklike kenmerke terselftertyd verskerp en wegsteek.
My dors vir bloed wil my op hierdie stadium omtrent oorweldig, en dit vat al my wilskrag om vir 'n oomblik terug te sit en net te besef dat die vampier wat aan haar begin voed het nog in die omgewing kan wees. Ek streel haar wang vir 'n laaste oomblik, en alhoewel ek nog steeds vrees in haar oë bespeur, neem ek ook haar begeerte vir vriendelike kontak waar. Ek uiter 'n sagte kragwoord terwyl ek my hand streel oor die oppervlakte van haar wond, en wanneer ek my hand finaal verwyder het die wond ophou bloei. Die wond self kon ek seker verwyder het, maar ek verkies gewoonlik dat my kos maar in een plek bly.
Dit is dan wat ek ook 'n geritsel agter my hoor, en as ek omdraai dan bespeur ek die skadu van die ander vampier soos wat hy vinnig teen die kant van die afskortings op my afstorm. Die meisie op die vloer kyk verskrik rond - sy besef iets is verkeerd maar haar brein is te stadig om die spoed van ons beweging te volg. Ek ontmoet die ander vampier in die lug, en terwyl my een klou se lang naels in sy sy insteek, dwing my ander klou sy bytende mond van my gesig af weg.
Ons albei val tot die grond, maar staan slaggereed om weer mekaar aan te vat. Die vampier se gesig is agter 'n goue masker weggesteek wat hom onmiddelik weggee as 'n onderling van Die Woord. Selfs die byt op die meisiekind se nek het my al so laat begin dink - maar volgens gerugte het niemand van Die Woord die vorige stamgroepoorlog oorleef nie - maar bleikbaar was die gerugte verkeerd.
Die wond aan die meisie se nek was taamlik onkunstig. Die volgers van Die Woord was gekenmerk vir hul bloeddorstigheid terwyl die vampiere van ons stamgroep darem 'n rasionale beheer oor hul dorslugtigheid kan uitoefen. Ons bytmerke is gewoonlik ook klein, onsigbaar, veral in vergelyking met die groot gaping wat Die Woord se byt gelos het.
Ek self aarsel gewoonlik eers 'n oomblik voor ek my slagoffer buit soos 'n hemelse kalmte oor my kom in daardie heilige oomblik waar al die sintuie tot hul uiterste geprikkel word: die ore 'n slaaf tot die musiek van die slagoffer se hartklop, die neus 'n slaaf tot die reuk van vars lewende bloed en die mengsels van sweet, parfuum, en deoderant wat aan ons slagoffers klou. En dan raak ons lippe aan hul sagte nekke, met die klein wit nekhaartjies wat prikkels regdeur ons liggaams stuur...en dan na 'n sekonde se aarseling by die slagoffer se nek - byt ons versigtig in sy lewensbloed in.
“Aah Donker Een, moet jou tipe hulself alewig besmet met die' wat jul niks baat nie. Die prooi is alreeds besmet met my bloed, en jy het niks met haar te maak nie!"
Hy was reg, as dit nog 'n vampier van my stamboom was kon ek heel veilig aan die meisie gedrink het, maar, en ek sukkel om my eie vrees vir die ampere moontlikheid te bedaar: as ek wel aan haar gedrink het, dan sou ek self in Die Woord kon verander. En dit is 'n noodlot erger as die dood self. In die dood hou mens darem op met dink, terwyl Die Woord verewig 'n hulpelose slaaf bly tot sy meer basiese honger- en haatinstinkte. En ek staan nou in die pad van Die Woord en die prooi wat sy oneindige dors vir bloed kan help les.
Die swart gleuwe in Die Woord se masker trek effens nouer soos sy geduld alreeds aan die verminder is, en sy haat vir my aan die vermeerder. Ek weet nie wat dit is wat my op die ou end laat besluit het nie: miskien was dit die ongemaklikheid van 'n herondekte vrees, of my wesenlike haat van die wese wat nou voor my staan, of die estetiese manier waarop die meisie reg was vir haar dood, of die besefkoming dat as Die Woord sy masker oor haar gesig sou sit - sy self woordwording kon ondergaan.
“Ek is jammer bose vriend - maar ek kan jou nie toelaat om hierdie wese te besmet nie. As ek kon seker wees dat sy sal sterf dan kon ek miskien nog my rug draai, maar haar tyd in hierdie realiteit is nog nie verby nie - en ek moet dus in jou pad staan.”
Sonder waarskuwing storm Die Woord op my af, en alhoewel 'n mens onkant betrap sou word is daar soveel tydintervalle wat 'n mens nie eers waarneem nie. Die skyf van sy oë na die kant het my alreeds besef dat hy iets beplan, toe is daar die effens dieper as gewoon asemteug wat hy neem, toe die effens agteruit beweging van sy arms en bene soos hy sy bolyf in my rigting stoot, en dan die opwaarste beweging van die arms na die hardloopposisie vir balans, terwyl sy mond al die tyd oop is om meer suurstof aan sy aktiewe liggaam te verskaf.
'n Kort kragwoord word deur my lippe gefluister en dan met my arms wat bestuur, stuur ek een van die afskortings in die rigting van die nou springende Woord. Terselfdertyd hoor ek die kreun van die meisie en die pynskreeu van die afskorting soos Die Woord se kloue in die afskeiding ingryp en hul nou bo ons verby tuimel. Nog 'n kort kragwoord volg en die wond aan die meisie se keel is gesond.
Ek hoor en ruik Die Woord weer voordat ek hom sien, en net betyds breuk my vlerke aan die agterkant van my leerbaadjie uit en spring ek dak toe waar ek vir 'n oomblik vasklou, voordat ek afvlieg tot op Die Woord se rug en my skerp kloue in hom in laat sak. Vir 'n oomblik tuimel ons nog op die grond voordat ek die lang mes uit my belt gryp en dit diep diep in sy vleis insteek. Tot op sy laaste probeer hy nog my greep om hom verbreuk, maar dan gee hy finaal sy laatste asem waarmee die goue masker dan ook van sy gesig afval.
Ek aarsel vir 'n oomblik by die lyk voordat ek opstaan - uit respek vir die wese wie se liggaam dit was voordat die goue masker hom so verander het. Ek neem die meisie onder my een arm, sy is tog so bietjie bang vir my ook, maar ek hou haar styf vas, en saam stap ons in die rigting van die hyser. Sy loer vir 'n oomblik nog na die aanloklikheid van die ou antieke masker wat nou glinster op die dorwe vloer, maar effens kwaai vou ek my vlerke om haar vas, en dan kyk sy ook na voor.

Watter vloer, meneer?

Die hyser hou net aan met klim, lank na daar nie meer plek op die metaal plaatjie met die gloeiende nommers is vir nog vloere nie. Tog hou die gloeiende nommers aan met verskyn, tot dit uiteindelik begin vervorm in letters, dan simbole teen die tyd wat dit deur die hyser se muur beweeg - en steeds is hulle sigbaar.
Dis dan dat ek besef dat die hyser nie meer besig is om op of af - of vorentoe of agtertoe of links of regs - te beweeg nie. Daar is 'n onbekende rigting, een wat nog nie van te vore in ag geneem is nie, en dit laat my toe om enige plek waar ek wil af te klim. Nuuskierig kyk ek weer na die paneel vol knoppies en sien tot my verbasing dat daar terselfde tyd steeds die gewone 24 knoppies en so veel knoppies soos wat ek wil he op is. Nuuskierig druk ek een. Dit proe soos die reuk van papier wat geel is van ouderdom...

Ek staan voor 'n groot glas deur. Op die deur, in groot swart letters, staan daar Afkop en Galgtou Prokureurs. Om een of ander rede is dit geensins vir my vreemd of ontstellend nie. Ek stoot die deur oop en stap in. Voor my is 'n doolhof van kantoor afskortings. Hier en daar sien ek die groen blare van plante uitsteek bo die afskortings, maar nerens sien ek 'n ontvangs dame of selfs 'n lee ontvangs tafel nie. Ek kyk af, en op die vloer sien ek 'n blou pyl met 'n groot oog wat vir my wink. Die pyl wys na die ingang van die doolhof, en na 'n oomblik van aarseling besluit ek om in te gaan. Ek kan sien dat die doolhof veronderstel is om verwarrend te wees, maar gelukkig is ek lank genoeg om bo oor te sien en kort voor lank vind ek myself aan die ander kant.
Hier sien ek uiteindelik tekens van lewe... soortvan. Agter 'n ou eike tafel met 'n bordjie waarop daar staan 'ont-vangs' sit daar 'n stok ou vrou met spinnerakke en stof oortrek. Teen haar oor hou sy 'n foon se gehoor stuk vas. Die draad van die gehoorstuk hang in 'n lus wat op krom en weer ingaan by haar ander oor. Op die tafel is daar ook 'n klokkie soos wat mens sal aantref op 'n hotel se toonbank. Ek stap nader en druk die knoppie een keer...

Die hout deure aan die teenoorgestelde kant van die kamer bars oop en 'n kort vet man met grys hare kom uit gewaggel agter 'n lang skraal man met 'n kaal kop. Die lang skraal man wys 'n benerige vinger na my en skreeu, "Dis hy gewees, daar is hy! Arresteer hom gevolgens Artikel 167A.33!"
Ek sien agter die kort vet man 'n spul mans in uniform wat by sy groot vorm probeer verby kom, hulle slaan hom met hul kluppels maar hy steer hom min aan hulle en staan net vir my en staar met 'n honger kyk in sy oe wat my glad nie aanstaan nie terwyl hy sy hande saam vryf. Ek kyk vinnig rond en sien dat die vrou agter die tafel se ander hand soos die stuk van 'n foon waarop dit rus lyk en spring nader en roep, "Kom nader en ek druk haar dood!"
Die lang skraal man raak bleek en styer terug, en ek gebruik die kans om die klokkie weer te druk, waarop almal weer verward terug hardloop en die deur agter hulle toeslaan.

Voor hulle agterkom wat gebeur het en weer uitstorm besluit ek om te verkas, en vind my pad terug deur die doolhof van afskortings. Ek verskyf ook 'n paar en voor ek aan die ander kant uit is bars hulle weer by die deur uit en skreeu, "Jy't ons gekul!"
Hulle probeer my agtervolg, maar word hopeloos verdwaal en in 'n flits uit die toekoms sien ek hul uitgeteerde geraamtes versprei in die doolhof. Dan is ek aan die ander kant uit en uit by die deur.

Ek wag vir die hyser en wanneer ek terugklim druk ek G vir grondvloer - ek sal 'n ander dag weer kom kyk wat op die ander 'vloere' is.