hy's bak!

Saturday, May 13, 2006

*poke*

Eerste ding wat ek in 'n lang tyd skrywe... Dit is nogal kort en gaan bietjie vinnig verby, maar ek was net lus om iets te skryf ^_^

Swart onbekende vingers krul rondom die silwer metaal van die hysbak se deur. Soos die koue briesie wat waai die oggend as 'n boerseun sy eerste hoender gaan slag sweef koue rillings onwelkom die hysbak binne. Onder die wese se donker kap is geen gesig sigbaar nie, en stilte heers in die hysbak behalwe vir die harde geklop van my hart wat onophoudelik ego in die klein spasie. Die hysbak kreun soos 'n hartspier wat reg is om te ontplof, en ek kyk maar ongemaklik na die vloer. Dis vuil - nadat ek die bediendes alreeds telkemale aangespreek het om die hysbak skoon te hou. In die dowwe metaal van die hysbak se mure weerkats die donker mantel van die nuwe passasier, en sy vuil voete klou aan die hysbak se vloer soos 'n groot handskoen om 'n hoender se dun nek.
My lewe flits by my verby vinniger as die klop van my hart. Ek sien die foute wat ek gemaak het, die goeie goed wat ek gedoen het, die mense wat my lewe geraak het, en waar ek my sleutels die dag vantevore vergeet het. Blokkiesraaisels word in 'n oomblik opgelos, meisies word in 'n oomblik omhels en verwerp, tyd verloor betekenis en kry dan eweskielik weer as die donker wese in my rigting staar. 'n Skynsel van 'n donker gesig loer sielsdodend by die donker mantel uit en wit oë kyk deur my siel. Dan stop die hyser, die vreemde passasier verlaat net so vinnig as wat hy gekom het, en ek gaan voort tot op my vloer.
My sleutels vind ek toe net waar ek dit in daai oomblik gesien het. Ek gebruik dit om my woonstel oop te sluit, maar in daai oomblik voor ek die deur oopstoot flits 'n visie van swart onbekende vingers deur my brein...en ek wonder wat ek hierdie keer agter my eie deur sal vind...