Dis eers toe ek in my ouers se motorhuis staan en kyk na hoe netjies alles reg gepak is dat ek tot die besef kom ek is besig om te droom.
Skielik tref dit my, ek is besig om 'n helder droom te ervaar. Ek kyk om my rond, bewus van elke besonderheid. Ek reik uit na 'n krat en voel die hout se spliteragtige oppervlak onder my vinger-punte.
"Reg," dink ek, "ek moet nie probeer om die droom te dryf nie - net bewus te bly en te volg."
Uit voorige helder drome weet ek dat ek nie die droom kan dryf nie - dit val uit mekaar uit.
Ek staan en tuur versigtig om my rond, attent op enige nuwe verwikkelinge, dan gewaar ek 'n vierkant van lig op die grond wat al hoe helderder raak, as of dit 'n lig is wat van 'n afstand af aan kom en sigbaar is deur gleufies.
Ek tree terug, onverbaas, as die lig sy helderste bereik en daar 'n hyser uit die grond uit op rys soos 'n leeu wat lui opstaan van 'n warm klip af.
"Pieng!" gaan hyser wanneer die deure oop gaan, wat vreemd is, aangesien mens gewoonlik 'n pieng geluid hoor as die deure oop gaan, eerder as die woord "Pieng".
Ek haal maar net my skouers op en tree die hyser binne - ek is seker vreemder dinge as die lê vir my voor as ek net kan bewus bly van die feit dat ek besig is om te droom.
Skaars is beide my voete oor die drimpel of die hyser begin daal. Ek kyk terug na die deure en merk dat hulle net weer skielik toe was nadat ek die hyser betree het sonder enige oorgang van oop na toe.
Die hyser versnel al meer en ek begin ligter voel. Die versnelling hou vol en ek voel hoe my voete die vloer van die hyser verlaat. Eers sweef ek stadig opwaarts, maar dan begin ek ook te versnel. Om een of ander rede kom die plafon van die hyser nie nader nie - om die waarheid te sê merk ek nou op dat beide die vloer en die plafon besig is om weg van my te beweeg, maar steeds ervaar ek die gevoel van opwaartse beweging.
Die oomblik wat ek besef die vloer en plafon beweeg weg begin die mure van die hyser ook weg beweeg, en die boks waarin ek was breuk in panele op wat in die donker niet in verdwyn.
Om my is dit nou pik donker, en die gevoel van beweging het gestaak - ek hang op een plek in die middel van nerens - maar ek kan steeds myself duidelik sien as ek afkyk na my liggaam. Ek weet ek was geklee toe ek die hyser betree het en eers besef het dat ek besig is om 'n helder droom te ervaar, maar merk nou dat ek sonder 'n draad klere is.
Dan hoor ek 'n hartklop. Dis baie duidelik, en voel of dit reg langs my is. Ek word oorkom met 'n onbeskryfbare rustigheid en 'n oorweldige gevoel van veiligheid, dan is dit as of daar 'n toe geknip is met 'n sker en ek voel hoe ek val.
Die wind is koud teen my naakte lyf en ek voel hoe ek deur lae vog val - soos wolke of mis. Dit voel vir my vreemd dat ek die heel tyd nog net as toeskouer alles ervaar, dat ek geen angs ervaar oor my drastiese afwaartse beweging nie.
Stadig aan word ek bewus dat dit besig is om lig te word, en ver onder my kan ek die grond sien nader kom - steeds is ek nie gesteur nie. Ek is nie lekker seker wat die doel van hierdie helder droom is nie, maar voel vol self-vertroue dat ek kan ingruip en selfs kan vlieg as dit sou nodig raak.
Dan gebeur die vreemdste ding - stadig aan begin ek verander, strale vog begin van my stroom en bly hang in die lug waar deur ek geval het en ek voel hoe my vaste liggaam al kleiner en dunner word terwyl ek terselfde tyd meng met die wolke wat in die lug hang en op 'n manier
meer word.
Ek weet nou met sekerheid dat ek nooit die grond gaan tref nie - dalk as rëen - en dan is my liggaam geheel en al weg.
Ek is die wind, ek is die weer, ek is die atmosfeer.